Dis weer pampoentyd!  

Click here for English.

Ons tuinspan pamperlang die hele somer lank die pampoene – vandat die saad geplant is totdat die welige pampoenranke tot wáár strek. En elke jaar wanneer die span die eerste pampoene bekendstel, weet ons: nou is dit amper herfs. Benewens ’n hele verskeidenheid pampoen- en kalbasvariëteite wat ons hier kweek en nou oes, is daar ook turksvye, persimmons, kwepers en carnarolirys. Met die vars kruie uit die Helende Tuin tower ons kalmerende kruietees op, en natuurlik is daar die heerlikste geur van die plaasbakkery se paasbolletjies wat in die lug hang, saam met al die ander verleidelike lekkernye wat ons met die oog op Paasnaweek maak.  

Pampoene by dosyne  

Die heel eerste Pampoenpretnaweek word van 1–3 Maart 2024 op die plaas aangebied en is waarlik iets om na uit te sien. Ons beplan soveel opwindende doendinge! Die feesvieringe skop af met ’n skattejag vir die kleinspan op Vrydag, 1 Maart – hulle sal hul oë nie glo as hulle sien hoeveel verskillende soorte pampoene en kalbassies in die tuin groei nie. Die hoogtepunt is Sondag, 3 Maart, wanneer dit kompetisietyd is – wie kan die beste pampoen kerf, pampoen gooi of pampoenpit spoeg? Ons bedien ook ’n verskeidenheid pampoenlekkernye. En moenie van die pampoenuitstalling in die Pofadder vergeet nie, kompleet met ’n spesiale fotohoekie vir ’n kiekie of twee. 

Kelderkaskenades  

In die kelder is dit die besigste tyd van die jaar. Die witwynoes is afgehandel – alles van die chardonnay vir ons In Die Wolke enkelkultivar tot die sémillon. En 2024 se chenin blanc is reeds op pad bottel toe en sal voor die einde van die maand gereed wees vir die glas. Nou is dit tyd om te fokus op rooiwyn – en die ywerige wynmakers staan behoorlik bont. 

Herfsoes  

Op die plaas het ons ’n snikhete somer agter die rug en dus is die herfs se vrugte, soos persimmons en kwepers, vroeër as gewoonlik ryp. Kwepers is ’n goue gunsteling – kom kyk gerus of jy hulle in die heinings rondom die groentebeddings gewaar. 

Verfrissende vonkels 

Teen die hange van ou Simonsberg groei inheemse rooibos en heuningbos – die inspirasie vir ons splinternuwe Vonkeltee. Hierdie koudgebroude ystee is pas in beide geure bekendgestel. Dis heerlik verfrissend, van nature kaffeïenvry en sonder enige onnodige kilojoules.  

Paastyd is hier  

Besoek die plaas gerus vir al jou Paasinkopies. Ons belowe ons steek geen enkele lekkerny weg nie! Die Plaaswinkel is oorlopens toe vol met gunstelinge soos pastelkleurige eiers, sjokoladehennetjies met praline gevul, eiervormige koekies en paasbolletjies wat elke oggend vars gebak word. 

As jy gelukkig genoeg is om vir die langnaweek weg te gaan, lewer ons graag die heel beste bestanddele vir die feesmaal by jou voordeur af. Bedien Dutch Baby-pannekoek gevul met forel vir ontbyt, gevulde vis oor die kole gebraai en beïndruk iedereen om jou tafel met gebakte pampoenpavlova! Dit is nóú die tyd vir luilekker kuiers saam met jou geliefdes en vir ervarings wat jy nog lank sal onthou. 

Ontspan & ontdek  

As jy voor die einde van April by die Plaashotel ’n bespreking maak vir verblyf tussen Maart en Augustus 2024 (minimum drie nagte), ontvang jy daarmee saam twee gratis kaartjies om op 25 Mei die 2024 RHS Chelsea Blommeskou in Londen by te woon. Gebruik hiervoor die kode CFS2024. B’s en V’s geld. https://babylonstoren.com/hotel 

Maartmaand se werkswinkels  

1 Maart – Pampoenpret (in Afrikaans aangebied) 

2 Maart – Join in on a pumpkin fun day! (in Engels aangebied) 

6 Maart – Basic propagation: Grow your own plants from scratch  

7 Maart – Pasta from scratch with heirloom tomatoes  

13 Maart – Cure your curiosity for charcuterie  

14 Maart – Boland classic: Learn to make traditional moskonfyt  

20 Maart – Master meat alongside our head butcher  

26 Maart – Young artists: Drawing inspiration from the garden  

27 Maart – Explore a bug’s life (workshop for kids; 4–7 years)  

27 Maart – Explore a bug’s life (workshop for kids; 8–12 years) 

Bespreek jou werksinkel: https://babylonstoren.com/workshops